Gee jou kind 'n sterk begin vir sy of haar skoolloopbaan.
Ons streef daarna om elke kind optimaal te ontwikkel sodat hulle nie net emosioneel gereed sal wees vir Graad 1 nie, maar ook leergereed.
Al ons personeel is gekwalifiseerde onderwysers met 'n natuurlike aanvoeling vir leerders. Hulle is empaties teenoor leerders en leef hul passie en roeping daagliks uit.
Ons sensoriese programme is van hoogstaande gehalte en help met die holistiese ontwikkeling van leerders. Dit dra by tot heelbrein- ontwikkeling, beter probleemoplossing en werksbeplanning — faktore wat bydra tot leergereedheid in Graad 1.
Die skool beskik ook oor 'n arbeidsterapeut, spraakterapeut, maatskaplike werker, opvoedkundige sielkundige en jeugwerker. Siftingsgeleenthede aan die begin van die jaar help om leerders wat ondersteuning nodig het, vroeg te identifiseer.
Leerders kan aansluit by mini-hokkie, Bulletjie rugby, Playball of Rekenaarbus. Voortrekkers word ook aangebied, en leerders kan deelneem aan die jaarlikse kultuurweek, Welsprekendheid en Kunswedstryd.
Leerders neem gereeld deel aan nasionale dae soos Nasionale Braaidag, Doughnut-dag en Melktert-dag, sowel as instappies, pretdae en waterspeledae. Ons Graad R-maats neem ook deel aan Laerskool-aktiwiteite soos atletiek en die jaarlikse Liedjiefees — en Ouma en Oupa-dag is 'n hoogtepunt op die skoolkalender.
Die KABV-kurrikulum word saam met die Nasionale Assesseringstandaarde gevolg. Die Taalontwikkelingsprogram is reeds in 2022 geïmplementeer, en in 2025 is 'n Wiskunde-ontwikkelingsprogram bygevoeg. Leerders toon reeds goeie vordering — hul fonetiese bewustheid en woordeskat het sterk verbeter, wat van kardinale belang is vir formele lees-onderrig.
Die kurrikulum sluit stories, dramatisering, sensoriese bewustheid en ouditiewe persepsuele ontwikkeling in, wat leerders help wat sukkel met ouditiewe prosesseringsprobleme.
Graad R is soveel meer as net 'n voorbereiding vir Graad 1 — dit is 'n belangrike jaar waarin kinders leer om selfstandig, selfversekerd en gereed vir formele skoolonderrig te wees.
Jou kind raak gewoond aan die skoolomgewing, klasroetines, reëls en verwagtinge voordat hulle Graad 1 betree.
Vroeë geletterdheidsvaardighede soos luister, woordeskat, klankbewustheid en storievertel word ontwikkel.
Praktiese aktiwiteite bou begrip van getalle, patrone, vorms, ruimte en probleemoplossing.
Knip, plak, teken, bou en beweeg berei kinders se liggame voor vir die take wat in die klas wag.
Kinders kry geleenthede om verantwoordelikheid te neem en trots te wees op hul eie vordering: "Ek kan dit self probeer!"
Deur reeds in Graad R deel van die skoolgemeenskap te wees, raak die oorgang na Graad 1 makliker en meer bekend.
Inskrywingsvorms kan elektronies aangevra en gestuur word na ontvangs@mayvies.co.za. Verdere navrae kan gerig word aan Me. Anita Kruyswijk, Departementshoof Grondslagfase, by dhg@mayvies.co.za.